Rekeningkundige standaarde

Rekeningkundige standaarde is 'n globale stel rekeningkundige reëls en beginsels. Finansiële state wat deur 'n onderneming opgestel en aangebied word, word gewoonlik ooreenkomstig sekere rekeningkundige standaarde opgestel. Hierdie standaarde kan wêreldwyd aansienlik verskil en word gewoonlik onder die toesig van die rekeningkundige beroep in die betrokke land en reguleringsowerhede aldaar opgestel. Die beoordeling van finansiële transaksies tussen lande met verskillende rekeningkundige standaarde kan dus moeilik wees.

Publieke maatskappye waarvan die aandele op aandelebeurse verhandel word, is gewoonlik aan die strengste standaarde onderhewig. Klein en middelgrote ondernemings word dikwels toegelaat om meer vereenvoudigde standaarde toe te pas, dikwels aangevul met spesifieke openbaarmaking wat deur hul belanghebbendes, insluitende hulle aandeelhouers, vereis word. Rekeningkundige standaarde skryf die rekeningkundige verantwoording van sekere transaksies en gebeure in besonderhede voor, hoe dit in die finansiële state aangebied moet word en watter bykomende openbaarmakings vereis word.

Enkele belangrike elemente wat deur rekeningkundige standaarde gedek word, is onder meer: die identifisering van die verslagdoenende entiteit, kwessies rondom die lopende saak veronderstelling, aanduiding van monetêre eenhede en verslagdoeningstydperke.[1] Voorts word onder meer spesifieke voorskrifte gegee oor die rekeningkundige verantwoording van huurtranskasies, buitelandse valutatransaksies, finansiële instrumente en eiendom, aanleg en toerusting, om maar slegs enkele voorbeelde te noem.

  1. WiseGeek. "What are the Generally Accepted Accounting Principles?". WiseGeek. Besoek op 9 Februarie 2017.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search